Biografie

 

Bianca De Bruyn, sangeres, mamma, grafiese ontwerper, mev Suid-Afrika finalis en sakevrou is ‘n go-getter wat haar deur niks laat onderkry nie.

Daar was ’n tyd – net meer as ’n dekade of wat gelede – wat die Afrikaanse musiektoneel oorheers is deur vroue van formaat. Die manne wat die musiekkolskoot kon tref, was in die minderheid. Die afgelope dekade is egter oorheers deur manlike sterre wat blitsvinnig die verhoog betree en begin oorheers het.

Is die skaal besig om weer in ewewig te swaai? Beslis. En Bianca Pienaar se jongste vrystelling, Net vir nou, is die onmisbare gewig om dié musiekskaal weer sy regmatige plek te laat inneem. Elf snitte wat die antwoord is op luisteraars se wekroep op ’n alternatief op die handjievol (vroue)klanke wat ons klankgolwe tans kenmerk.

Bianca is ’n boorling van  Pretoria . Sy is in 2009 vir haar eerste album, Obsessie, vir ’n Vonk Afrikaanse Musiektoekenning genomineer in die kategorie: beste kontemporêre vroulike album.Die klanke op Net vir nou is egter ver verwyder van haar eerste album. Meer pop en minder rock. Daar is steeds die lekkerluisterelement, maar daar is ook ’n volwassewording wat diepgang aan die melodieë verleen. Gesels jy met dié 35-jarige (wat nie net met ’n graad in grafiese ontwerp spog nie, maar ook haar eie musiekskool, Platinum Musiek Akademie, het) is dit gou duidelik wat die wese van haar woorde is. Dié borrelende blondekop sit nie stil nie en Net vir nou sal jou ook allermins stil in jou stoel laat. Snitte soos Net vir nou, Droomverlore ure, Ek weet, Ek hou van asook die Afrikaanse verwerking van die Blondie-treffer Call Me bewys dat Bianca Pienaar gewis nie Net vir nou is nie, maar hier is om te Bly (soos die vars verwerking van die 1994-Karin Hougaard treffer uit die pen van Steve Hofmeyr).Want sy het geleer wat dit beteken om nog ’n kans te kry. ’n Stem wat saakmaak, selfs Sonder woorde. Vrou van formaat.